Asjkenasiese Jode (Hebreeus: אַשְׁכְּנַזִּים, Asjkenasim, [ˌaʃkəˈnazim]; eenvoud: Asjkenasi, [ˌaʃkəˈnazi]; Moderne Hebreeus: [aʃkenaˈzim] of [aʃkenaˈzi]; ook יְהוּדֵי אַשְׁכְּנַז, Jehoedéj Asjkenas, letterlik: "Jode van Asjkenas") is 'n Joodse diasporabevolking wat rondom die einde van die eerste millennium in die Heilige Romeinse Ryk ontstaan het.[19] Die naam is afgelei van Asjkenas (אשכְּנז), 'n seun van Gomer, kleinseun van Jafet en agterkleinseun van Noag in Genesis van die Hebreeuse Bybel.[20][21]Jeremia verwys egter na 'n koninkryk Asjkenas wat saam met Ararat (Urartu) en Minni (Manneërs) oorlog teen Babilon moes voer om dié stad te vernietig.[22] In die Middeleeuse Rabbynse literatuur het dié term na Duitsland verwys.
Asjkenasiese Jode vorm die grootste en derde oudste groep binne die Joodse diaspora (Jode buite Israel) met 'n geskiedenis van meer as 2000 jaar. Rondom 200 v.C. het Palestynse Jode 'n gemeente in Rome gestig. As gevolg van die nederlae tydens die Joodse oorlog (70 n.C.) en die Bar Kochba-opstand (130 n.C.) is nog meer Palestynse Jode as slawe na Italië gebring.[23] Baie van hul nasate het hulle later in gebiede noord van die Alpe gevestig, terwyl ander na die Islamitiese verowering van Jerusalem in die 7de eeu na Palestina teruggekeer het.[24] Met die verowering van Germania Inferior en Germania Superior onder keiser Augustus het Jode hulle saam met Romeine in dié twee provinsies gevestig. Die riviereRyn en Donau het grense van die Romeinse Ryk geword en dus was die Joodse vestiging in stede suid en wes van dié riviere beperk. Vroeë sentra was Augusta Treverorum (Trier), Mogontiacum (Mainz), Colonia Claudia Ara Agrippinensium (Keulen), Borbetomagus (Worms) en Noviomagus Nemetum (Speyer).
Die term "Asjkenasiese Jode" verwys na Joodse setlaars wat tydens die Middeleeue gemeentes tussen die riviere Loire in Noord-Frankryk en die Rynrivier in Wes-Duitsland gestig het.[29] Toe hulle hulle daar gevestig het, het hulle hul tradisies aangepas wat van Babilon, die Heilige Land en die Wes-Mediterreense gebied na hul nuwe omgewing saamgeneem is.[30] Die Asjkenasiese ritus het in stede soos Mainz, Worms en Trier ontwikkel. Die vooraanstaande rabbi Shlomo Itzhaki (Rashi) sou 'n beduidende invloed op die Joodse godsdiens hê.
In die laat Middeleeue, as gevolg van godsdienstige vervolging soos tydens die Kruistogte en ander pogromme, het die meerderheid van die Asjkenasiese bevolking geleidelik ooswaarts verskuif en uit die Heilige Romeinse Ryk na die gebiede van die latere Pools-Litause Gemenebes (bestaande uit dele van die hedendaagse Wit-Rusland, Letland, Litaue, Pole, Rusland en Oekraïne)[31][32] beweeg. In die loop van die laat 18de en 19de eeu het daardie Jode wat in die Duitse lande gebly of teruggekeer het, 'n kulturele heroriëntering opgedoen; onder die invloed van die Haskalá en die stryd om emansipasie sowel as die intellektuele en kulturele gis in stedelike sentrums het hulle geleidelik die gebruik van Jiddisj laat vaar en Duits as taal aangeneem en gelyktydig nuwe vorme van Joodse godsdienstige lewe en kulturele identiteit ontwikkel.[33]
Die Holocaust van die Tweede Wêreldoorlog het die Asjkenasiese Jode probeer vernietig en lede van feitlik elke Joodse familie is vermoor.[34][35] Volgens ramings het die Asjkenasiese Jode in die 11de eeu drie persent van die totale wêreldwye Joodse bevolking gevorm, terwyl volgens 'n skatting van 1930 (naby dié bevolking se piek) hulle 92 persent van die wêreldwye Jode gevorm het.[36] Onmiddellik voor die Holocaust was die getal Jode wêreldwyd ongeveer 16,7 miljoen.[37] Statistiese syfers wissel vir die kontemporêre demografie van Asjkenasiese Jode en streek van 10[1] tot 11,2 miljoen.[2] Sergio Della Pergola het in 'n ruwe skatting van Sefardiese en Mizrachi-Jode geraam dat Asjkenasiese Jode nie meer as 74% van die Joodse bevolking wêreldwyd verteenwoordig nie.[38] Volgens ander ramings maak die Asjkenasiese Jode sowat 75% van die Jode wêreldwyd uit.[39] Die meeste Jode in Suid-Afrika is van Asjkenasiese Jode afkomstig.
Volgens genetiese studies oor Asjkenasiese Jode – wat beide hul vaderlike en moederlike afstamming ondersoek het – beskik hulle oor 'n oorheersende hoeveelheid gedeelde Midde-Oosterse voorgeslagte, aangevul deur verskillende persentasies van Europese invloed. Hierdie studies het aangekom by uiteenlopende gevolgtrekkings met betrekking tot beide die graad en die bronne van hul Europese afkoms en het oor die algemeen gefokus op die mate van die Europese genetiese oorsprong wat in Asjkenasiese Jode se moederstamme waargeneem is.[40]
Asjkenasiese Jode (met hul tradisionele taal Jiddisj) word onderskei van Sefardiese Jode (met hul tradisionele taal Ladino), wat afstam van Jode wat hulle in die Iberiese Skiereiland gevestig het, en Mizrachi-Jode (met tradisionele tale soos Aramees, Arabies en Persies), wat afstam van Jode wat in die Midde-Ooste gebly het. Die belangrikste verbindende elemente is die gemeenskaplike geloof, Judaïsme, en die gebruik van Hebreeus as liturgiese taal.
↑ 1,01,11,2"Ashkenazi Jews" (in Engels). The Hebrew University of Jerusalem. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2020. Besoek op 16 Mei 2019.
↑(af) "Jeremia 51,27". Bybel: Jeremia. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019. Hou 'n vaandel op oor die aarde, blaas die ramshoring onder die nasies, maak hulle gereed om Babel aan te val, roep koninkryke teen hom op: Ararat, Minni en Askenas; benoem 'n bevelvoerder vir die aanslag, bring perde soos sprinkaanswerms!
↑(en) Sergio DellaPergola (2008). ""Sephardic and Oriental" Jews in Israel and Countries: Migration, Social Change, and Identification". Sephardic Jewry and Mizrahi Jews. Vol. X11. Oxford University Press. pp. 3–42. ISBN978-0-19-971250-2. {{cite book}}: Onbekende parameter |editors= geïgnoreer (hulp)
↑(en) Focus on Genetic Screening Research edited by Sandra R. Pupecki bl. 58